Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Net om die woorde “Hensoppers” en “Joiners” met betrekking tot die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) te hoor, maak baie mense warm onder die kraag. Net die gedagte dat ʼn medeburger die wapen opgeneem het om sy eie mense te dreig en in ʼn oorlog dood te skiet, is bykans ondenkbaar. Maar selfs die verraaiers in ons midde het hul eie unieke geskiedenis wat vertel moet word.
In hierdie episode van Rede uit die verlede praat Emile en Johan oor die motiewe van sekere Transvaalse en Oranje-Vrystaatse burgers wat oorgegee het (Hensoppers) en die wat by die Britse magte aangesluit het (Joiners). Ook wat met hulle na die oorlog gebeur het, is deel van die gesprek.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Robey Sidney Leibbrandt is 55 jaar na sy dood steeds ʼn historiese figuur wat akademici en geskiedenisentoesiaste se aandag trek. Leibbrandt was ʼn komplekse persoon wat eenvoudig nie deur een bepaalde perspektief beskou kan word nie.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Op 30 April 1789 word George Washington die eerste president van die Verenigde State van Amerika. Sedert sy presidensie het 44 verkose Amerikaanse burgers hom opgevolg. Elkeen was uniek en party kontroversieel. Binnekort moet die Amerikaners weer stem ten gunste van 'n tweede termyn vir die 45ste Amerikaanse president, of om nommer 46 kans te gee om te regeer.
In hierdie episode van Rede uit die Verlede word die ampstermyne van sekere Amerikaanse presidente kortliks bespreek, naamlik John Adams (pa en seun), James Monroe, Abraham Lincoln, Andrew Jackson, Ulysses S. Grant, Teddy Roosevelt, Woodrow Wilson, Franklin Roosevelt, John F. Kennedy, Richard Nixon en Ronald Reagan.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Op 2 Junie 1989 word Sandra Smith na die galg gelei. Met die voltrekking van haar vonnis word sy die laaste vrou wat in Suid-Afrika die doodstraf gekry het. Op dieselfde dag is Yassiem Harris ook gehang omdat hy in 1986 ʼn wrede moord saam met Smith gepleeg het.
Sandra Smith was ʼn getroude vrou en ʼn ma van twee toe sy en Yassiem Harris mekaar ontmoet het. Omdat haar man gereeld uitstedig was, was dit maklik om ʼn buite-egtelike verhouding met Harris aan te knoop. Terselfdertyd het Yassiem ook ʼn verhouding met Jermaine Abrahams gehad, wat dalk die jaloesie in Smith laat ontketen het?
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Van 1983 tot 1987 het Zola Mahobe, bekend as Mr Cool, ʼn koninklike lewe gelei. Eens die eienaar van die bekende Suid-Afrikaanse sokkerspan, Mamelodi Sundowns, was dit hierdie seun van Soweto se droom om meer as net die NSL-trofee te wen.
Met sy maatskappy, Power Promotions, was hy in die posisie om in die 1980's met die elite van Suid-Afrika om te gaan. Sy besigheidsportefeulje het stelselmatig uitgebrei, maar teen 1987 was die spreekwoordelike koeël deur die kerk vir Mr Cool.
Waarom? Luister gerus na hierdie episode van Dossier.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
VSA/RSA: Deel 6
Dit is September 1899 en die Amerikaners in Transvaal moet planne maak om uit die land te kom. Oorlog blyk onafwendbaar te wees en die Amerikaanse konsuls in Pretoria en Kaapstad moet hul burgers help om uit Transvaal te kom.
Hierdie episode handel juis oor die redes waarom sekere Amerikaners in Transvaal besluit het om liewers pad te gee, as om aan die oorlog tussen die Boererepublieke en die Britse Ryk deel te neem. En natuurlik ook hoe hulle Transvaal verlaat het.
Washington D.C. het natuurlik ʼn spesifieke beleid gehad met betrekking tot Transvaal en die Oranje-Vrystaat, terwyl beide state in ʼn oorlog teen die Britse Ryk gewikkel was. Dit word verduidelik om sodoende presies te bepaal wat die administrasie van president McKinley se beleid ten opsigte van die oorlog in Suid-Afrika was.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
'n Paar maande voor die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog in 1899 was die verhouding tussen die ZAR en VSA nie op 'n baie goeie voet nie. Alhoewel die OVS vir ʼn geruime tyd diplomatieke verteenwoordiging in die VSA gehad het, het die ZAR die fout begaan om nie ʼn konsul in die VSA aan te stel nie.
Dit lyk asof die Transvaalse leeu en die Amerikaanse witkoparend van 1898 tot 1899 vir mekaar gegluur het. Dr. W.J. Leyds het alles in sy mag gedoen om die ZAR se beeld in die buiteland te versterk, maar mense soos John Hay en John Hays Hammond met hulle anti-Boersentimente het die taak bemoeilik.
Daar het ook onsmaaklikhede in die ZAR voorgekom waarby Amerikaners betrokke was, wat glad nie die goedkeuring van die Amerikaanse konsul in Pretoria, Charles Macrum, of sy regering weggedra het nie.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Dit is 1898 en die spanning in Transvaal word elke dag erger. Sommige Amerikaanse burgers in Transvaal, waarvan die meeste in die mynbedryf werksaam is, het anti-Paul Krugeroortuigings en is lus vir ʼn bakleiery saam met die ander “Uitlanders”. Ander is pro-Boer en werk saam met die Amerikaanse konsulaat in Pretoria om vir president Kruger ʼn mooi geskenk vir sy verjaarsdag te koop.
Die Amerikaanse burgery hou gebeure in Transvaal met ʼn valkoog dop. Verskillende sprekers lewer lesings oor die Boere en die Boererepublieke regoor die VSA, maar anti-Boeraktiviste skryf vir enige belangstellende tydskrif of koerant waarom die Britse Ryk die hele Suid-Afrika moet regeer.
Die Amerikaanse regering van president McKinley hoor gereeld negatiewe stories oor Transvaal deur mense soos John Seymour, ʼn prokureur van Wallstraat in New York, en John Hay die VSA se Staatsekretaris. Maar Mckinley se ware bekommernis is of die Krugerregering Amerikaanse burgers vir diens te velde sal opkommandeer.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Indien die Verenigde State van Amerika so magtig en pro-Boer was, waarom het die VSA nie die twee Boererepublieke in 1899 kom help nie? Dit is ʼn billike vraag en een wat kortliks in hierdie episode bespreek word.
Dit is waar dat Anglofobie in Amerikanergeledere gedurende die eerste 50 jaar van die 19de eeu geheers het. Hoe anders as 'n mens die Amerikaanse Rewolusie en die oorlog van 1812 in berekening bring? Hierdie gevoel het weer vlamgevat toe Britse skeepsmaatskappye gewillig was om skepe vir president Davies se regering te bou.
Maar na die Washington Verdrag van 1871 het die VSA en die Britse Ryk mekaar gou weer vergewe en mekaar in die 1890’s ondersteun: eers met die grensgeskil met Venezuela en toe die oorlog in Kuba, om twee voorbeelde te gee.
Gou het die VSA agtergekom dat Washington nie op Londen se tone moes trap nie. Het dit dalk ʼn rol gespeel in die VSA se “neutraliteit” ten opsigte van die Anglo-Boereoorlog van 1899-1902?
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
In hierdie episode van VSA/RSA word die rol van Amerikaners in die Jameson-inval van 1895-1896 kortliks bespreek. U sal ook hoor wat Amerikaners in die algemeen van die Boererepublieke gedink het.
Name van vooraanstaande Amerikaners (in Transvaal en in die VSA) soos John Hays Hammond, Richard Olney en Theodore Roosevelt word in die bespreking genoem en hoe hul woorde en dade gedurende die middel van die 1890's veral die ZAR belemmer of gesteun het.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
VSA/RSA
Die Verenigde State van Amerika (VSA) en Suid-Afrika stap al ʼn lank pad saam. Dit is 'n geskiedenis wat oor eeue strek en ʼn diplomatieke verhouding wat nie altyd ewe vriendelik was nie.
Wanneer ‘n mens veral die middel tot laat 19de eeu in oënskou neem, is daar oorgenoeg interaksie tussen die twee lande om belangstelling in die diplomatieke geskiedenis tussen die VSA en Suid-Afrika te wek. Amerikaners het ‘ʼn impak op Suid-Afrika gemaak – van sendelinge soos eerwaarde Daniel Lindley tot mynbeamptes soos John Hays Hammond. Suid-Afrikaanse state soos die twee Boererepublieke het ook die aandag van die VSA geniet.
In hierdie episode word die diplomatieke verhoudinge tussen die VSA en die twee Boererepublieke kortliks behandel, naamlik van die stigting van die Boererepublieke tot net so voor die Jameson-inval van 1895.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Hoe klink die liedjie nou weer? “Dis nie my spook nie, dis nie jou spook nie, dis ʼn ander man se spook wat julle oor stry!”
Spoke is inderwaarheid nie volksvreemd nie. Spookgelowe is ook nie ʼn Europese invoerproduk nie. Natuurlik het ander Suid-Afrikaanse gemeenskappe opvattings oor wesens wat in die nag rondsweef en reisigers in die donker kan laat struikel. Kyk net hoeveel poniekoerante publiseer stories oor slagoffers wat towerkuns of spokery vir hul teenspoed blameer. Suid-Afrika wemel van spookstories en spesifieke plekke waar spoke teengekom is.
Spookgelowe maak selfs verskillende maatskappye elke jaar ryker. ʼn Spooktoer nou en dan is al wat nodig is om die lagspiere goeie oefening te gee, of om die senuwees te toets. Maatskappye in Edinburgh, Skotland, is aand na aand bespreek vir tot vyf toere per aand om mense na plekke te neem waar dit stikdonker is en waar skokkende gebeurtenisse eens plaasgevind het. Die toeriste is gaande daaroor! Op soek na die onbekende, die makabere en die onverklaarbare - dit maak mos die lewe interessant!
Dit is hoekom die ouer generasies dalk “stoepstories” oor spoke vir die penkoppe en drawwertjies vertel het, veral toe die aande lank geword het. Daar is wel gevalle waar 'n mens, skepties of nie, nie presies weet of die gerug van goëlery en ander bonatuurlike gebeure waar is of nie. Hierdie opname is hopelik die voorloper van toekomstige gesprekke oor die interessante onderwerp. Dit is meer as net 'n stoepstorie; hierdie opname word hopelik beskou as die poort na kultuurhistoriese besinning oor die geeste wat "kastig" om ons beweeg...
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Onderkaptein, militêre aanvoerder, bendeleier, diplomaat, bloedvergieter - dis hoe Jan Jonker Afrikaner (1798-1861) beskryf word. In Windhoek en later Okahandja, was Afrikaner beslis die sterkste militêre en politieke magsfiguur in Namibië tussen die 1840's en1850's, net voordat die Duitse Ryk die streek gekoloniseer het.
Daar is nogtans sprake dat Jonker Afrikaner verantwoordelik was vir grootskaalse moord op die Herero’s. Maar daar is ook gevalle waar hy barmhartigheid teenoor die Booi-gemeenskap betoon het. Hoe kan 'n mens Jonker Afrikaner probeer verstaan? Hoe besonders is sy historiese nalatenskap vir die land Namibië?
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Historici wat fokus op gender-geskiedenis argumenteer dat die rol van vroue in historiese konteks te lank deur navorsers geïgnoreer was. 'n Mens kan daarmee saamstem wanneer die biografie van Johanna Brandt bestudeer word. Anna le Grange, 'n Meestersgraadstudent aan die Noordwes-Universiteit, het so pas haar navorsing oor Johanna Brandt voltooi. Haar werk stel hierdie besonderse vrou in 'n nuwe perspektief, maar laat Le Grange self verder oor Brandt vertel (in skrif en via die amptelike Eensgesind-opname):
Wanneer die naam "Johanna Brandt" genoem word, flits terme soos "profeet", "spioen", "geneser" en "predikantsvrou" dikwels deur 'n mens se gedagtes. Dit is egter belangrik om die historiese figuur agter hierdie persepsies in gedagte te hou. Dit was die doel van my navorsing oor Johanna Brandt, of Johanna Brandt-Van Warmelo, soos sy na haarself verwys het.
Van Kindsbeen tot Patriot
Johanna is op 18 November 1876 in Heidelberg gebore. Sy was die vierde kind van Nicolaas Jacobus van Warmelo en Maria Magdalena Elizabeth van Warmelo (n. Maré). Nicolaas van Warmelo is oorspronklik van Nederland, maar het in 1862 begin met predikantswerk binne die Hervormde Kerk van Suid-Afrika. Die feit dat Johanna se vader van Nederland afkomstig was, het haar mening oor Nederland duidelik van ʼn jong ouderdom af gevorm.
Sy is later ook self met ʼn Nederlander, Louis Brandt, getroud. Johanna se moeder stam uit ʼn lang bloedlyn Afrikanerpioniers wat uiteindelik die atmosfeer geskep het vir Johanna om ʼn sterk proto-nasionalistiese en nasionalistiese sentiment vir die Afrikanervolk en Afrikanertradisies te koester. Onder die invloed van sy vrou het Nicolaas van Warmelo ook sterk opvattings oor die Boere gevorm. Tydens die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) het Johanna se vader as ‘n groot patriot vir die Boere opgetree. Dit het uiteindelik ook ʼn invloed gehad op die kinders in die Van Warmelo-huis, aangesien hulle jongste dogter, Johanna, dieselfde sentimente in haar vroeë volwassenheid gekoester het.
Hoewel Johanna vandag geken word vir haar twee groot profetiese publikasies, Millennium (1918) en The Paraclete, or Coming World Mother (1936), en haar mediese skrywes oor die genesing van kanker, Die Druiwekuur (1948), is daar verskeie fasette van hierdie historiese figuur wat in ag geneem moet word. Die studie oor Johanna het verskeie elemente van hierdie historiese figuur geopenbaar - die belangrikste is dat sy 'n groot liefde vir haar medevolksgenote gehad het. Sy het op haar eie manier 'n bydrae gelewer tot die vorming van 'n nasionale bewussyn onder die Afrikaner - 'n nasionale bewussyn wat uiteindelik met die 1948-verkiesing 'n piek sou bereik.
Lewe na die Anglo-Boereoorlog (1899-1902)
Johanna het na die ABO by verskeie maatskaplike opheffingsinisiatiewe betrokke geraak. Hoewel sy in 1902 na Nederland vertrek het om daar met Louis Brandt te gaan trou, het sy haar man voortdurend herinner aan die naoorlogse nood in Suid-Afrika. 'n Groot aantal Afrikaners het ná die oorlog verstedelik. In hierdie vroeë stadiums van industrialisasie, gepaard met die naoorlogse opbou, het grootskaalse armoede in die stede geheers. Van die blanke armoede was werklik ernstige Afrikanerarmoede. Hierdie besef het veral onder kerkleiers en leraars posgevat soos Louis en Johanna, as Hervormde predikant en predikantsvrou. Die armblankeprobleem het Afrikaneridentiteit en behoefte aan nasionalisme te verskerp. Binne hierdie erge armoede in die stede het Johanna haar nasionalisme laat uiting vind deur maatskaplik betrokke te raak by armoedeverligting deur middel van organisasies soos die SAVF en die Vroue Nasionale Party. Na 1916 neem haar maatskaplike betrokkenheid egter af, maar dit wat tussen 1899 en 1916 vir die Afrikaner bereik is in terme van armoedeverligting en algemene maatskaplike betrokkenheid, kan nie ontken word nie.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Generaal Piet Cronjé word nie so hoog geag soos ander Anglo-Boereoorloggeneraals (1899-1902) nie. Sy oorgawe by Paardeberg op 27 Februarie 1900 kan waarskynlik die rede wees. Sekerlik is daar veel meer wat ʼn mens oor generaal Cronjé kan sê?
In hierdie episode word die lewe van Piet Cronjé onder die vergrootglas geplaas. Sy aandeel aan die beleg van Potchefstroom se fort en hoe hy dr. Jameson uit Johannesburg gehou en die inval gestuit het, is deel van die narratief. Natuurlik is sy loopbaan in die Verenigde State van Amerika as ʼn toneelspeler in ʼn rondgaande sirkus ook baie interessant.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Wat het gebeur?
Op 11 Oktober 1899, presies om vyfuur die middag, het die ultimatum van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) aan die Britse Ryk verstryk. Die Britse Ryk het die stipulasies van die ultimatum geignoreer en daardeur geimpliseer dat hulle bereid was om oorlog teen die ZAR te voer. Agt dae voor die verstryking van die ultimatum is burgers van die ZAR en die Oranje-Vrystaat reeds vir kommandodiens opgeroep. Die dorpie Lichtenburg moes natuurlik ook 'n kommando byeenroep onder generaal Koos de la Rey. Hulle eerste taak was om weswaarts te ry om die treinspoor tussen Kimberley en Mafeking (Mahikeng vandag) te beskadig, sodat laasgenoemde dorp geen versterkings kon kry nie.
Op 12 Oktober 1899 het 'n trein, bekend as die Mosquito, by Kraaipan ontspoor as gevolg van die feit dat die Boerekommando onder generaal De la Rey die spore afgehaal het. Toe die trein die grond met 'n harde slag tref, het die eerste skote van die oorlog geklap. Ene veldkortnet JC Coetzee van Lichtenburg was die eerste kryger wat sy geweer afgevuur het. Coetzee sou nie die oorlog oorleef nie. Hy lê begrawe by die Magersfontein Burgermonument net duskant Kimberley waar hy gedurende die Slag van Magersfontein op 11 Desember 1899 gesneuwel het.
Geen Boerekryger of Britse soldaat het by die Slag van Kraaipan gesterf nie, maar twee swart werknemers wat op die trein gewerk het, het wel gesterf en die eerste twee ongevalle van die oorlog geword. Na hulle oorwinning by die treinspoor het generaal De la Rey en sy kommando net 'n entjie verder aangery en by die nabygeleë pan gaan rus (sien kaart hieronder). Beide hierdie twee historiese terreine kan vandag besigtig word en sodoende kan 'n mens die beginpunt van die Anglo-Boereoorlog besoek (en die gebeurtenisse van daardie aand van 12 Oktober 1899 "beleef").
Padlangs gevind
Omtrent 73 kilometer suidwes van Mahikeng is die presiese plek waar die Slag van Kraaipan plaasgevind het. Kraaipan het vir Suid-Afrikaners dieselfde betekenis as wat die veldslae van Lexington, Concord en Bunker Hill vir die Amerikaners beteken, nl. waar 'n oorlog met Groot-Brittanje amptelik begin het.
Dis net jammer dat die presiese plek waar die Mosquito deur die Lichtenburgse kommando ontspoor is, steeds so verlate in die ope veld staan. Gelukkig is daar 'n driepaneelmonumentjie op die heuweltjie net reg langsaan, maar selfs die monumentjie is te nederig vir belangstellendes om na Kraaipan te stroom. As jy wel die afrit van die N18 af na Kraaipan neem en die 18 kilometer na die gehuggie van Kraaipan toe ry, sal die plaaslike museumuitstalling oor die veldslag jou ongeveer 40 minute neem om te besigtig. 'n Kort entjie verder van die museum is die amptelike monument van die slag en ook die enigste oorlogsgrafte by Kraaipan. Hierdie oorlogsgrafte is nie van die geveg van 12 Oktober 1899 nie, maar van ander gevegte in die gebied tussen Boer en Brit tydens die ABO.
Tesame met die presiese plek van ontsporing, die De la Rey-kamp en 'n basiese uitstalling in die plaaslike museumpie, is daar iets in Kraaipan wat die belangstelling padlangs kan prikkel. Kraaipan was maar net die begin van 'n oorlog wat drie jaar lank sou woed, maar wat beide Boer en Brit duur te staan gekom het.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Net anderkant Wakkerstroom is generaal Piet Joubert (1831-1900) se mausoleum. Dit is geleë op die plaas Rustfontein wat eens aan Joubert behoort het. In die tweede helfte van die 19de eeu was generaal Joubert ‘n bekende politieke figuur en ook ‘n beroemde veldheer. Maar soos Romulus en Remus wat in stryd met mekaar was, was Joubert en staatspresident Kruger ook teenstanders - daar moes beslis word watter een van hulle Transvaal sou regeer.
Dit was juis na die Slag van Majuba dat Joubert opgang as ‘n gesagsfiguur gemaak het en sy plek in die Suid-Afrikaanse geskiedenis bevestig het. Hy is ook vereer deurdat die dorp Pietersburg na hom vernoem is en selfs die klomp Randlords het Joubert hoog geag.
Wie was hierdie Transvaalse veldheer van weleer?
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Maak enige geskiedenisboek oor die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) oop en 'n mens lees sommer gou oor die drie beleerde Britse dorpe, nl. Kimberley, Mafeking en Ladysmith. Jy sal gelukkig wees om te lees van die minder bekende beleg van Elandsrivier wat plaasgevind het waar die dorpie van Swartruggens tans is.
Selektiewe feite en temas is ʼn kwessie waarmee historici daagliks stoei. Indien so, waarom kry die beleg van Elandsrivier nie dieselfde aandag as die ander drie nie? Die aantal manskappe betrokke, die duur van die beleg en selfs die nasionaliteit van die troepe wat die beleg moes deurgaan, is genoeg redes waarom die beleg van Elandsrivier (ook bekend as Brakfontein) nie dieselfde aandag gekry het as die bogenoemde gevalle waar Britse magte beleër is nie. Kom ons kyk dan wat het hier gebeur, sodat onkunde nie langer meer koning kraai nie.
Teen Augustus 1900 was lord Roberts in Pretoria. Vanuit die voormalige hoofstad moes hy Transvaal beheer en regeer totdat dit behoorlik by die res van die Britse Ryk kon inskakel.
ʼn Doring in sy vlees was die Boerekommando's wat steeds te velde was en glad nie belang gestel het om oor te gee nie. Die kommando onder generaal Koos de la Rey dien as voorbeeld en het in daardie maand na ʼn teiken gesoek wat die Britse magte kon verras. Die roete van Pretoria na die hoofstad van die Britse Protektoraat van Betsjoeanaland, Mafeking, het deur Rustenburg en Zeerust geloop. Tussen hierdie dorpe moes konvooie beskerm word deur buiteposte wat deur Britse soldate (maak nie saak of hulle van Brittanje, Australië, Nieu-Seeland ens. gekom het nie) beman was. Een van hierdie buiteposte, wat redelik groot was in vergelyking met die ander in Groot-Marico en Zeerust, was by die Elandsrivier geleë. Die dorp Swartruggens het toe nog nie bestaan nie.
Generaal De la Rey het gesien dat die Elandsrivierbuitepos maklik vanaf 'n afstand aangeval kon word. Die buitepos was omring deur die heuwels wat Swartruggens sy naam gegee het en grofgeskut kon die Britse troepe dae lank bombardeer sonder enige risiko. Generaal Christiaan de Wet was aan die begin van Augustus 1900 ook in Transvaal en wou weer terugkeer na die Vrystaat. Die Britse magte wou hom wel vastrek as gevolg van die aksies wat hy teen hulle geloods het in die Vrystaat. De la Rey moes die Britse magte se aandag aftrek deur ʼn aanval op ʼn buitepos, sodat hulle nie sou agterkom dat De Wet op pad terug was na die Vrystaat nie. Van 3 tot 16 Augustus 1900 het De la Rey die Elandsrivierbuitepos bestook met die grofgeskut wat hy gehad het en die Britse troepe moes hard probeer om te oorleef met wat hulle gehad het. Dit was soos die beleg van die Alamo in San Antonio, Texas, waar Amerikaanse troepe en vrywilligers hulself vir ʼn geruime tyd in ʼn onvoldoende fortifikasie moes verdedig, met die hoop dat hul redding van buite spoedig sou kom. Vir die Britse troepe by Swartruggens het die redding van buite nooit gekom nie. Roberts wou hulp stuur, maar het sy besluit verander as gevolg van die verkeerde aannames van ʼn lafhartige bevelvoerder genaamd Frederick Carrington.
Reg langs die N4 wanneer 'n mens weswaarts ry tot by die oostelike ingang van Swartruggens, is die historiese terrein van die beleg van Elandsrivier . Daar is geen padteken wat die afdraai aandui nie, maar as jy verby die pragtige NG Kerk gery het, het jy klaar die afdraai gemis. Gewoonlik staan die hekke oop omdat die plaaslike owerheid geen moeite doen om na die historiese terrein om te sien nie (daar is dus nie 'n hekwag nie).
Dit is asof hulle dit letterlik aan die voëls van die hemel en die diere van die veld oorgelaat het om dit weer deel van die aarde te maak. Hoewel die skrywer nog nie enige haweloses daar teegekom het nie, is tog bewyse van nagtelike verblyf daar aangetref..
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Gedurende 2017 het die televisieprogram Carte Blanche ondersoek ingestel na die stand van sake in Johannesburg se museums. Die lae gehalte van die uitstallings en die onkundigheid van veral die departemente verantwoordelik vir die stad se museums, was skokkend – om die minste te sê. ‘n Mens kan dan seker die vraag vra: as dit so power in die Goudstad se museums gaan, hoeveel swaarder moet dit nie vir ‘n dorpsmuseum of enige ander museum wees wat van donasies afhanklik is nie? Die uitdagings is meervoudig en Suid-Afrika se museumkundiges moet regtig hare op hulle tande hê om hulle uitdagings daagliks aan te pak.
Dit is moeilik om 'n begrip te vorm van die uitdagings wat museumkundiges daagliks ervaar, omdat die saak min aandag in die media geniet. Nou en dan is die uitsaaiwese vriendelik genoeg om 'n kort insetsel te verfilm vir 'n program wat op 'n positiewe geheel van die spesifieke museum wil fokus, in plaas van die struikelblokke wat die museum se deure dalk permanent kan sluit. Eensgesind het geargumenteer dat dit nou tyd is om 'n kurator uit te vra oor wat die spesifieke struikelblokke is en waarom ons in die eerste plek 'n verskeidenheid museums in ons land het. Ons het toe so gemaak deur middel van 'n ware in diepte gesprek; wat hopelik die kompleksiteit van die situasie, waarin die land se museums tans is, behoorlik verduidelik.
Johan Wolfaardt is die kurator van die President M.W. Pretorius huismuseum, Potchefstroom, en het in 'n vorige opname oor geheime organisasies bewys dat hy 'n bron van inligting is wat die nodige perspektief vir Jan Alleman duidelik kan skets. Die eerste gedeelte van die onderhoud volg die gesprek oor die geskiedenis van museums in Suid-Afrika, hoe Suid-Afrikaners oor die laaste twee eeue inspirasie uit museums kon kry en wat die huidige kwessies is. Ook sal die luisteraar presies kan hoor hoe die breër publiek kan help met die instandhouding van ons land se museums en hoe elke besoeker (plaaslik of internasionaal) welkom in 'n museum behoort te voel.
Kyk net na die eerste gedeelte van die woord “Museum”. Muse. Die nege Muses was die bonatuurlike wesens (gewoonlik uitgebeeld as vroulik) in die Griekse mitologie wat verantwoordelik was vir die mense se inspirasie om enige vorm van kuns te skep en wetenskap te deurgrond. Klio was die muse verantwoordelik vir die mens se nuuskierigheid oor die verlede. Museums is dus die plek waar leer lekker moet wees en as ‘n mens die verskillende dorpsmuseumpies besoek, moet jy ‘n plan maak om die groot uitstalareas van die gevestigde Suid-Afrikaanse museums (in privaat of staatsbesit) te ontdek. Deur figuurlik deur ‘n huismuseum se tasbare historiese omgewing weggevoer te word, kan die verlede weer springlewendig voor jou geestesoog word.
Dan sal jy dalk rede uit die verlede kan vind vir ons eie teenswoordige uitdagings, omdat die gemeenskappe van vervloeë dae, soos wat in 'n museum uitgebeeld word, ook dieselfde soort uitdagings moes oorkom. Maar onthou, die museums van ons land, soos die President MW Pretorius huismuseum, wag gretig om jou welkom te heet. 'n Besoek is net die regte ding om te doen om die museum te ondersteun, veral as daar iets nuuts uitgestal word.
In die tweede gedeelte sluit Johan Wolfaardt by 'n vorige gesprek van Eensgesind aan oor geheimsinnige organisasies en hoe 'n mens daaroor kan besin. Dit sal gelukkig nie die laaste geselsie met Johan wees nie, want ter afsluiting van die gesprek het ons saam 'n ander interessante gesprekspunt geopen. Dit sal oorstaan vir 'n toekomstige potgooi-episode van Rede uit die Verlede.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.
Die afgelope drie jaar het verskillende Suid-Afrikaanse monumente die teiken geword van aktiviste wat hulle ontevredenheid wou aandui. As gevolg van hulle persoonlike frustrasies (polities, ekonomies, sosiaal of 'n kombinasie van die verskillende bronne) is monumente verwoes, verniel of verwyder.
Dit laat 'n mens dink aan die woorde van die Romeinse offisier, Marcellis, aan sy Griekse slaaf, Demetrius uit die 1942-boek, The Robe, van LC Douglas:
“I say, damn all men who make war on monuments!
The present may belong to the Roman Empire by force of conquest; but, by all gods, the past does not! A nation is surely of contemptible and cowardly mind that goes to battle against another nation’s history! It did not take much courage to come up here and hack the ear off old Pericles!...
There is not much dignity left in a nation that has no respect for the words and works of geniuses who gave the world whatever wisdom and beauty it owns!”
Suid-Afrika het honderde monumente en 'n groot verskeidenheid historiesie terreine, museums en slagvelde. Dit beteken dat die nuuskierigheid wat die algemene Suid-Afrikaanse burger dalk het, ten volle bevredig kan word met elke naweekeksursie of vakansie "road trip".
Die benadering tot ons monumentale erfenis kan kompleks wees wanneer dit verstrengel word met afgunstige politieke ideologieë, maar dit kan ook leersaam en genotvol vir oud en jonk wees. Dit is selfs behulpsaam met die lewenslange soektog na 'n mens se eie identiteit en kulturele verbintenis met ander mense.
Ek het met 'n ware kenner oor Suid-Afrikaanse monumentale erfenis gaan gesels oor die hedendaagse vraagstukke oor ons land se erfenis. Dr Jackie Grobler, afgetrede dosent van die Universiteit van Pretoria, is Suid-Afrika se ware "monumentjagter". Sy jongstewerk is Oor berge en dale: Op reis met 'n monumentjagter.
Luister saam na ons gesprek soos wat ons saam sinvolle gevolgtrekkings probeer maak oor ons toekomstige benaderings tot die gebruik van ons land se groot aantal monumente, historiese terreine en museums; asook die ondersteuning van die instanies wat na ons erfenis omsien. Ons vertrou dat dit jou weetgierigheid sal prikkel en jou sal oortuig om stelselmatig in die voetspore van ons eie monumentjagter te loop.
Hosted on Acast. See acast.com/privacy for more information.