Dat seisoene in die natuur kom en gaan, is ’n gegewe. Net so moet ons in ons lewe aanvaar dat goeie en slegte tye mekaar afwissel. Maar niemand kan enige nuwe seisoen – hetsy goed of sleg – alleen aandurf nie. Om te floreer in ’n nuwe fase is ’n spanpoging!
Die verhoudingskenner en teoloog, Lynette Beer, verduidelik aan die hand van ’n paar Bybelse beginsels waarom sy so sterk hieroor voel. Sy gee ook praktiese advies aan die hand van 6 idees wat haar in haar eie lewe hiermee gehelp het.
Soos wat ons in mekaar se vreugdevolle seisoene deel, en mekaar se laste gedurende die slegtes help dra, moet ons ons kennis van die liefdestale vergroot. Lynette verduidelik dit, asook hoe die verskillende temperamente se benaderings tot ’n nuwe seisoen van mekaar verskil.
Hierdie hartlike gesprek sal jou begrip en fyn aanvoeling vir mense vergroot, sodat jy jou naasteliefde waarlik onder alle omstandighede kan uitleef. Welkom in die span wat mekaar aanmoedig om nuwe seisoene te omhels!
’n Mens kan die grootte van mense se bekommernis oor hulle welstand meet aan die hoeveelheid geld wat hul wêreldwyd aan selfhelpboeke, kursusse en produkte spandeer. Daar is egter een maklike tradisie wat ons almal se gesondheid en verhoudings gesonder sal maak, naamlik om saam te eet.
Lynette deel wat navorsers oor hierdie tipies menslike aktiwiteit ontdek het. Sy verduidelik hoekom jy regtig moeite moet doen om te braai of te kook of ’n broodjie te smeer en saam met jou geliefdes te geniet.
Wees gerus, drie etes per dag, sewe dae per week hoef niemand se mikpunt in ons besige wêreld te wees nie. Doen dit op ’n manier wat by jou en jou mense se besige skedules pas. Meer nog, doen dit op ’n manier wat by julle temperamente pas.
Die Geruste Groen temperament verstaan dat mense versorgd en geliefd voel as hulle in harmonie saam eet en fokus hierop in hul gesinne. Hulle het gewoonlik nie veel aanmoediging of riglyne nodig nie. Die ander drie temperamente kan egter wel baat vind by Lynette se liefdevolle lesse en aktuele advies.
Neem in ag dat ook die Bybel bevestig dat kos verhoudings kan maak of breek. Met Lynette se praktiese raad en inspirerende voorbeelde, kan jy dan as gelowige daadwerklik plan maak om meer gereeld te sê: “Kos is op die tafel, smaaklike ete!”.
Die welstand van ons gemeenskappe en die erfenis wat ons vir ons nageslag wil nalaat, hang daarvan af of ons ook ons kostradisies eer.
Alle gelowiges – nie net vroue nie – word opgeroep om verskil te maak. In Vrouemaand fokus Lynette in haar geselsie met jou, op praktiese maniere hoe elke temperament waarlik hulle lig kan laat skyn.
Onthou, jy los ’n voetspoor in die lewe en jy moet oplet na watse spreekwoordelike skoene jy dra soos wat jy jou pad loop. Voor jou het ’n hele paar vroue hier in Suid-Afrika diep spore nagelaat en Lynette vertel jou hiervan om jou te inspireer.
Sy verduidelik wat dit beteken om hier as gelowige in die 21ste eeu sout vir die aarde te wees. Sy verduidelik ook hoe die impak wat vroue maak, verskillend is vir elkeen van die vier temperamente.
Gewilde Geel persone se impak word geïllustreer aan die hand van Anna Neethling Pohl en dié van Rasende Rooi mense aan die hand van Emily Hobhouse. Vir ’n meer Geruste Groen impak, is Tibbie Steyn ’n mooi rolmodel. Vir ’n tipiese Besliste Blou impak, vertel Lynette jou van die vroue wat die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabriek Beperk opgerig het.
Met al hierdie inspirasie kan jy jou hande uit jou moue steek en ’n verskilmaker word op die manier wat by jou pas.
Boeke is meer as net woorde op papier of ’n skerm, dis die gedagtes en gevoelens van ’n mens wat in jou lewe inpraat om jou iets te leer of saam met jou te ontspan. Meer nog, om te lees is een van die gesondste lewensgewoontes wat ’n mens kan aanleer om jou stresvlakke te verlaag.
Lees werk sáám met die gesonde funksionering van jou brein, verhoog jou intelligensie en verbeter jou vermoë om met ander mense empatie te hê. Dit dwing jou om meer bewus te leef en as ’n geestelike aktiwiteit bring dit jou in kontak met God.
Leer by Lynette Beer ’n paar praktiese maniere om die vreugde en vrede van lees te ontdek (of herontdek) en sien hoe jou liggaam beter ontspan en jou brein helderder dink. Dit is ’n antieke gewoonte, maar ’n post-moderne noodsaaklikheid!
Ons as mense kan net optimaal ons beste self wees as ons vriende het. Ons is geskape om verskillende tipes konneksies met mense te hê en vriendskappe is ’n onmisbare deel hiervan. In die Bybel is daar riglyne oor hoe ons as ’n gemeenskap van gelowiges mekaar moet opbou.
Prakties is dit egter baie uitdagend, want ons verskil so baie van mekaar en die sonde het ons vriendskappe kom versteur. Met kennis van die temperamente kan jy jou vriendskapsbande hegter maak en ook ontspan in die wete dat jou unieke sterkpunte jou bekwaam maak om ’n goeie vriend of vriendin te wees.
Lynette Beer gee as vooraanstaande verhoudingskenner drie praktiese wenke vir elkeen van die vier temperamentstipes waarmee jy moontlik bevriend is. Of jy net een goeie vriend het of tientalle, jy sal die kuns van kameraadskap bemeester en die vrede en vreugde van gesonde konneksies beleef.
’n Ondankbare lewe is ’n ongelukkige, eensame en ongesonde lewe. Navorsers bevestig dat ’n ingesteldheid van dankbaarheid van groot waarde vir ons geestelike en fisieke gesondheid is.
Gelowiges weet dit al lank! Meer nog, hulle glo dis ’n Bybelse opdrag om in alle omstandighede dankbaar te wees. Dit beteken om daagliks te fokus op die genade en sorg van die Here. 
Sonde, asook ons verdriet, woede en vrees ná teenspoed steel ongelukkig ons aandag. Daarom gebeur dit dat selfs mense wat die Woord lees en bid, verbitterd, ongesond en eensaam word.
Aan die hand van versreëls uit die pen van D.J. Opperman wys Lynette Beer jou hoe jy die sonde in jou hart kan identifiseer en bely. 
Sy leer jou om weer op seën en troos te fokus. Dan kan jy soos die digter sê:
“Ek het die wondere van God beskryf
en al die monsters uit my hart verdryf.”00:00 - Die verband tussen dankbaarheid en twee versreëls van D.J. Opperman
01:31 - Sommige monsters, oftewel sonde in ons hart is maklik herkenbaar
04:14 - Ja, selfs gelowiges kom in versoeking, doen sonde en moet dit bely!
06:02 - Die gekamoefleerde monsters/sondes van kennis sonder vertroue
10:06 - Verskuilde monsters/sonde wat as valse vroomheid herken en erken moet word
12:58 - Hoe om jammer te sê en die uitdaging om ander te vergewe
17:36 - Die negatiewe gevolge as jy kies om nie te vergewe en lesse te leer nie
19:57 - ’n Paar waarhede oor hoe dit werk om te vergewe
24:11 - Praktiese raad om die kuns van vergifnis te leer
27:42 - Die positiewe gevolge as jy jou monsters verdryf en jou hart skoonmaak
31:30 - Maak ’n Trooslysie in plaas van ’n Dankbaarheidslysie as jou seer te groot is
34:43 - Slotgedagtes en seënwense
Ons wêreld staan op sy kop. Waarheid is nou leuens en leuens word versprei as die waarheid. Hoe moet ’n gelowige dan kophou en hoe hou ’n mens jou hart vol met liefde vir God en jou naaste? Ons as mense vlug na verskillende afleidings, soos mooi films, maar nou in April is dit Paasfees.
Ons kan opnuut fokus op wat dit beteken dat ons deel in die oorwinning van Christus. Mense met verskillende temperamente kan dit op verskillende maniere doen, maar ons gebruik almal die lig van die Bybel op ons paaie in ’n donker wêreld. Elke keer wanneer gelowiges doen wat reg is in die oë van die Here, deel ons in die Opstanding wat alles nuut en anders kom maak het.
00:37 - Hallo en geseënde Paasfees
08:48 - Die storie van die film “Steel Magnolias” vertel van lewe en dood
15:58 - Hoekom vertel ek jou van dié sentimentele film vol clichés?
20:58 - Wat sê die Bybel oor herlewing en groei in ’n skeefgetrekte samelewing?
26:25 - Die Opstanding het gekom en van toe af is alles anders en nuut
33:35 - Hoe kan gelowiges dan anders wees en op ’n nuwe manier leef?
Jy is verskriklik besig en het heeltemal te min tyd. Daarom kry jy ook af dae wanneer jy moeg en moedeloos voel. Op sulke dae moet jy genade met jouself hê, maar jy moet ook kennis neem dat iets in jou lewe uit balans is. Laat Lynette jou leer hoe om jou kragte te herlaai en hoe jy op die herstel van balans in jou lewe kan fokus. Dis minder kompleks as wat jy dink! Gee jouself toestemming om op jou geluk te mag fokus en gebruik Maslow se model van behoeftes soos wat Lynette dit vir jou verduidelik.
00:00-Ja, jy is ook iemand wat méér in minder tyd moet doen
03:13-Supermense kry ook af dae en voel soms moeg en moedeloos
8:53-Hoekom dit so belangrik is om jou kragte te herlaai
13:35-Die groot rol wat jou geestelike gesondheid in jou lewe speel
16:56-Die tekens en gevare van ’n lewe wat nie in balans is nie
20:52-Wat om te doen as jy vasgevang en magteloos voel
23:16-Begrippe wat jy moet verstaan vóór jy jou prioriteite hersien
27:03-Die waarheid oor behoeftes en Maslow se model
29:35-Die 5 vlakke van Maslow se piramide van behoeftes
32:26-Hoe jy Maslow se model in jou lewe kan toepas
35:28-Dis ook oukei as jy soms uit balans is!
Laat Lynette Beer se potgooi Die uitdagings van onselfsugtige liefde jou inspireer om met jou liefdestale, temperament en geloof 'n positiewe verskil in die wêreld te maak. Met al haar praktiese idees hoe om welwillendheid uit te leef, het jy geen verskoning meer nie!
Tydens die sessie het Lynette Beer gefokus op die besprekings van planne en drome vir die nuwe jaar, met spesiale aandag aan die stel van duidelike, meetbare doelwitte vir 2025. Lynette het luisteraars geïnspireer om hul drome in aksie te omskep en doelbewus te werk aan persoonlike groei. Sy het ook erken dat nie almal optimisties voel oor die nuwe jaar nie en dat sosiale media dikwels gevoelens van ontoereikendheid kan versterk.
Lynette het 'n kragtige boodskap gedeel oor die belangrikheid van om jou eie roeping te volg en die geloof dat elke persoon die vermoë het om 'n positiewe impak te maak, ongeag die uitdagings wat hulle in die gesig staar. Sy het die lewensiklus van 'n skoenlapper as 'n metafoor gebruik om persoonlike ontwikkeling te illustreer, en het beklemtoon hoe elke fase van groei betekenis en waarde inhou.
Lynette het luisteraars aangemoedig om geduldig te wees en bewus te wees van hoe hulle bydra tot hul eie en ander se lewens. Die sessie is afgesluit met ‘n oproep om die nuwe jaar met dankbaarheid en hoop te begin, met ‘n sterk fokus op persoonlike verandering en transformasie.
In hierdie episode van haar podcast deel Lynette Beer insigte oor die belangrikheid van ontspan na die bekendstelling van haar nuwe aanlyn mediaplatform. Sy vertel hoe haar perspektief op gasvryheid en geduld verander is deur die invloed van die Heilige Gees, wat haar gehelp het om beter met verskillende temperamente en situasies om te gaan. Lynette bespreek ook hoe hierdie temperamente mense se finansiële besluite tydens vakansies kan beïnvloed, met unieke benaderings tot geldbestuur. Sy delf in die uitdagings van vakansiebeplanning in gesinne waar verskillende temperamente 'n rol speel. Lynette beklemtoon hoe belangrik dit is dat elke gesinslid hul wense kan uitdruk, met ruimte vir buigsaamheid in planne. Sy lig die waarde van oop kommunikasie en begrip uit om 'n positiewe vakansie-ervaring te skep. Daar word ook gepraat oor hoe onvervulde verwagtinge en misverstande spanning binne families kan veroorsaak, en hoe proaktiewe gesprekke oor verwagtinge kan help om die feestyd met minimale konflik en meer saamweestyd te geniet. Luister in en ontdek hoe jy jou gesinsdinamika en vakansiebeplanning kan verbeter met Lynette se waardevolle raad en perspektiewe. Hoofstukke: Refleksies oor Vakansieherinneringe (0:00) Geld en Temperamente tydens Vakansies (7:32) Vakansiebeplanning en Gesinsdinamiek (15:47) Kommunikasie en Temperamente (32:30) Verhoudings en Verwachtinge tydens die Feestyd (34:38)