
Alle gelowiges – nie net vroue nie – word opgeroep om verskil te maak. In Vrouemaand fokus Lynette in haar geselsie met jou, op praktiese maniere hoe elke temperament waarlik hulle lig kan laat skyn.
Onthou, jy los ’n voetspoor in die lewe en jy moet oplet na watse spreekwoordelike skoene jy dra soos wat jy jou pad loop. Voor jou het ’n hele paar vroue hier in Suid-Afrika diep spore nagelaat en Lynette vertel jou hiervan om jou te inspireer.
Sy verduidelik wat dit beteken om hier as gelowige in die 21ste eeu sout vir die aarde te wees. Sy verduidelik ook hoe die impak wat vroue maak, verskillend is vir elkeen van die vier temperamente.
Gewilde Geel persone se impak word geïllustreer aan die hand van Anna Neethling Pohl en dié van Rasende Rooi mense aan die hand van Emily Hobhouse. Vir ’n meer Geruste Groen impak, is Tibbie Steyn ’n mooi rolmodel. Vir ’n tipiese Besliste Blou impak, vertel Lynette jou van die vroue wat die Eerste Nasionale Tee- en Koffiefabriek Beperk opgerig het.
Met al hierdie inspirasie kan jy jou hande uit jou moue steek en ’n verskilmaker word op die manier wat by jou pas.