Miga vra die belangrikste vraag wat enige iemand kan vra. Die vraag is: Hoe kan ek, as klein swak mens, met die ewige en hoë God, in verhouding wees? Miga gee twee verkeerde antwoorde, en dan eers kom hy by die regte antwoord uit. In hierdie preek ontdek ons wat dit is.
Ons lees reeds in die eerste hoofstuk van die Bybel dat die mens as beeld van God geskape is. Hierdie beeld het egter ernstige skade gekry en moes herstel word. Wat het gebeur en natuurlik, wat nou? Hoe neem ons deel aan die herstel-proses? Daarom vandag se tema: Maak Jesus sigbaar.
Dit is die tyd van die jaar waar ons geskenke koop. ‘n Tyd van GEE. Daarom is dit ook gepas dat ons nadink oor die geskenk van GEE, aldus vrygewigheid. Ons ontdek vanuit die gelykenis van die ryk jongman dat geld gevaarlik kan wees vir ons geestelike lewe en daarom die vraag: Wat is die antwoord vir dié gevaar?
Die andersheid van die eerste gelowiges het tot gevolg gehad dat die vroeë kerk dramaties gegroei het. Een van die mees sigbare uitdrukkings van hulle andersheid was hulle radikale vrygewigheid. Vandag gaan ons kyk na twee dinge wat hulle gemotiveer het om so te leef en na wat dit vir ons lewens vandag beteken.
Om dieper te luister gaan nie net oor die mense in ons wêreld nie. Dit gaan ook oor hoe ons God hoor. Jesus kom leer ons hoe om op drie verskillende maniere te luister. Elk daarvan leer ons iets van wie Hy is, wie ons as mense is, en hoe ons die Jesuslewe nog meer kan ontdek.
Dis nie ‘n positiewe waarneming as ‘n mens opmerk dat die wêreld se verre meerderheid mense in armoede leef nie. Met ander woorde, ons praat van behoeftig en hulle sukkel om in hul eie en hul gesin se basiese behoeftes te voorsien. Dis ‘n daaglikse oorlewingstryd. Verseker is hierdie realiteit vir die Here belangrik en praat Hy daaroor in sy Woord. Die wagwoorde van ‘n gelowige in hierdie wêreld behoort dankbaarheid en vrygewigheid te wees. Leef met oop harte en oop hande. Reageer soos Jesus met ‘n diep en werklike liefde wat omgee en uitreik na behoeftige mense. Jy word geseën om ‘n seën te kan wees. Kom ons gaan leef dit!
Ons gesels oor die verlamde man by die Mooipoort in die Tempel. Die Heilige Gees laat Jesus se volgelinge anders kyk na ander en laat ons anders optree teenoor ander.
‘n Vriend van my het gebruik dikwels die gesegde: Moeilikheid is ons besigheid... dit kan sekerlik vir baie dinge staan, maar dan ook vir die KERK, nie waar nie? Deur die eeue heen is die Kerk bekend daarvoor dat daar nie gevlug word vir moeilikheid nie, maar eerder na dit toe getreë word. Sedert die opstanding van Jesus het hierdie beweging die wêreld getref juis omdat dit NA die nood toe beweeg het. Vandag staan ons stil by twee manne van die Bybel – een uit die OT en een uit die NT wat beide in moeilike omstandighede vir ons wys hoe gelowiges leef met ‘n ander perspektief as dié om hulle.
Jesus is op rekord in Matteus 24-25 dat die wederkoms onverwags gaan plaasvind. In vier gelykenisse vertel Hy dan vir ons hoe ons met geloof en wysheid moet leef tot en net die dag van die Here. Ons moet eerstens soos goeie werkers wees wat omgee vir mekaar (Matteus 24:45-51). Ook moet ons soos wyse jongmeisies by ‘n bruilof wees wat hemelse olie in ons lampe het Matteus 25:1-12). Tussendeur moet ons woeker met die kosbare skatte wat God aan ons elkeen toevertrou (Matteus 25:14-30). Ons moet uiteindelik ook die goeie skape op die dag van die Here wees wat met medelye en omgee leef tot by die wederkoms (Matteus 25:31-46).
“Jesus wys in Markus dat kinders oor alle grense heen – ryk of arm, binne die ‘regte’ groep of buite dit, onbelangrik of gesien – die hart van die Koninkryk is. Hoe ons kinders ontvang en in hulle belê, wys hoe ons Hom self ontvang.”
“Moet dit nie moeilik maak vir hulle om by God uit te kom nie.” Dit is Paulus se appèl aan gelowiges, want hy verstaan dat Jesus nog altyd mense wou laat inkom, en deel maak van God se familie. Jesus kom demonstreer dat selfs die kleinste kindertjies vir Hom belangrik is, en daarom moet die volgende generasie net so belangrik wees vir die kerk om seker te maak dat hulle sonder moeite kan inkom.
Die woord “veerkragtigheid” word baie wyd gebruik. Dis ‘n tipe van gewilde in-woord - selfs ietwat van ‘n cliché. Sê die Woord enige iets daaroor? Is dit enigsins op God se hart vir sy kinders? Die realiteit is dat dit gereeld met almal, gelowiges en ongelowiges uitdagend en swaar gaan. Verseker is veerkragtigheid belangrik. Verseker is veerkragtig in die eerste plek ‘n Woord-beginsel. Luister en leer uit die Woord oor die belangrike saak.
Nooit het die Nuwe Testament bedoel dat die wederkoms as bangmaak-materiaal moet wees nie. Of dat die datum deur mense bereken moet word nie. Die dag van die Here kom onverwags (1 Tessalonisense 5:1-2). Jesus beplan geen voortydige ontruimingsaksies voor die wederkoms nie (Johannes 17:13-15). Tot by die wederkoms leef ons lig en in die Here se lig (1 Tessalonisense 5:4-5). Ons sien uit na die Dag van die Here. Almal wat reeds in Christus gesterf het en almal wat nog leef gaan Hom feestelik op die wolke gaan verwelkom hier op sy nuwe aarde (1 Tessalonisense 4:13-18). Ons sien uit na die dag van die Here waar Hy gaan feesvier saam met ons oor al die goeie vrugte van geloof wat ons hier op aarde gelewer het (Filippense 1:10-11)
Jesus daag ons uit om nuut te dink oor hoe lief God ons het in die verhaal van die verlore seuns. Vanuit die verhaal vind ons 4 letters wat 'n akroniem word vir 4 woorde. Daarom kan ons as gelowiges vandag sê die huis maak altyd WINS.
Iets gebeur wanneer argitekte en bouers saamwerk om ‘n indrukwekkende gebou te bou. As “lewende stene” is die Here besig om ons as gelowiges in sy geestelike huis in te bou. In dié huis, wat ons vandag die kerk noem, aanbid ons God, ons ontdek ons identiteit en ons word deel van ‘n netwerk van Christene wat die voorreg het om saam te dien. Maak jouself tuis in Sy huis!
Dit het op ‘n Sondag begin toe Jesus opgestaan het en ’n leë graf vol getuienis agtergelaat het.
Dit het op ’n Sondag begin toe ‘n groep wat besig was om weg te kruip die lewende Here gesien en gehoor het toe Hy sê: Vrede vir julle.
Sedertdien leef die Kerk vanuit die hoop wat Sondag bring. Sondag bevestig dat Jesus is wie Hy gesê het Hy is en juis daarom ontdek, leer en leef ons die Jesuslewe want Sondag bring hoop. Hierdie groep mense, die ekklesia is ’n beweging wat gans anders is. Kom ontdek saam die dinge waaroor die vyand glimlag as ons dit glo, want om ekklesia te wees sal ons waaksaam moet wees hiervoor.
In hierdie reeks oor die kerk, word ons herinner dat die vyand alles in sy vermoë sal doen:
· om die kerk te weerhou om te verstaan wat God se plan vir die kerk is en
· ons te weerhou om deel te neem aan hierdie missie waarvoor God ons so duidelik roep.
Ons Here Jesus Christus, wat die hoof van die kerk is, wil hê dat ons ‘n sekere tipe kerk sal wees. Hy wil hê ons moet ‘n kerk wees waar sondaars welkom is. Ons moet ‘n kerk wees wat kan partytjie hou as mense terugdraai na God en Hy wil hê dat ons ‘n kerk sal bly wat klein is in haar eie oë. Kom verbind jouself opnuut weer aan die kerk wat die liggaam van Christus is.
Ons praat in hierdie reeks oor die kerk waaroor Jesus droom en wat Hy besig is om te bou. In die verhaal van die verlore seun ontdek ons dat hierdie kerk nie styf of ontoeganklik is nie, maar ’n plek wat die vreugde en omhelsing van die Vader weerspieël. Die verhaal is ook ons verhaal, daarom kan ons saam met Jesus bou aan ‘n kerk soos hierdie.
Die vroeë kerk was bekend as mense wat saam rondom tafels ontmoet het – vir meer as net iets om te eet. Dit was hulle daar ontdek het, is vandag nog inspirasie vir ons ontdekking van Jesus.