
Strek die bene en skink ‘n schnap want in vandag se episode gesels ons bietjie oor wat om te verwag van ‘n ski vakansie. Om die ys te breek, vertel Nina Ellis vir ons hoe sy gegaan het van ‘n amateur beginner tot ‘n blitsvinnige skier in ‘n week.
Saam met ‘n paar handige wenke oor die glans en gly van ski, neem ons julle na een van die mooiste plekke om sneeu te vind in Oostenryk — Saalbach-Hinterglemm.
Tips vir Saalbach-Hinterglemm
🏔️
Lift A7 | ‘n Goeie plek om te begin leer ski of snowboard. Hier sal jy die ‘baby slope’ vind wat die ideale helling is om jou selfvertroue op te bou.
Lift B1 | ‘n Gondola lift wat jou sal aflaai by ‘n gesellige restaurant op die berg, Winkler Alm. Van daar af kan jy ‘n gemaklike blou of rooi roete of die ski-lift weer afvat na die voet van die berg.
Lift B2 | ‘n Aansluiting ski-lift van B1 wat jou tot op die bopunt van die berg (Zwölferkogel) sal neem. Op 1984 meter bo seespieël, moet jy net weet waarvoor jy jouself in laat in terme van hoogtevrees, maar van die piek van die berg is daar menigte roetes om van te kies om weer af te kom. Wees gerusgestel, daar is ‘n blou roete van bo tot onder — kyk net uit vir die aanwysings.
Zwölferkogel | Die bekendste berg om op te ski in die area met menigte roetes van verskillende moeilikheidsgrade. Soos voorheen genoem, is hy 1984 meter bo seespieël.
Schattberg-Ost | Nóg ‘n gewilde berg om te ontdek en te verken en is 2020 meter bo seespieël. Neem lift A1 en A2 op tot heel bo om my persoonlike gunsteling blou roete (2) te ski tot onder.
🎵
Nag-ski | ‘n Móét as jy gemaklik is op die ‘slopes’. Ski of snowboard na sonsondergang onder spreiligte. Die nag-ski by Saalbach is by lift A9.
Rodel | Rodel is ‘n tiepe slieë wat jy kan afneem by die ‘slopes’ — ‘n lekker aktiwiteit vir die hele familie.
Aprés-ski | Die naam sê alles. ‘Aprés-ski’ word direk vertaal as ‘na-ski’ en is die kuier wat gebeur by elke ski-hut na ‘n dag se ski. Verwag Abba treffers en baie dans want Saalbach is bekend vir hierdie tradisie.
Goaßstall | Word direk vertaal as ‘Die bok stal’ en is ‘n baie lekker plek om te gaan aprés-ski. Mense gly of ski letterlik uit hierdie kroeg op die sneeu omdat dit die enigste manier is om uit te kom.
Der Schwarzacher | Die hoof aprés-ski plek in Saalbach en ‘n goeie plek om ‘n dag se ski te begin en te eindig.
Winkler Alm | ‘n Restaurant in die middel van die Zwölferkogel berg wat net bereikbaar is met die gondola. Heerlike plek vir middagete en om asem te skep.
Schloss Leopoldskron | Die landgoed waar ‘The Sound of Music’ verfilm is in Salzburg. Enige aanhangers van die film sal dit onthou as die huis van die Von Trapp familie — Villa Trapp.
🍽️
Wiener schnitzel | Die tradisionele Oostenrykse dis wat goeie brandstof is vir ski.
Spar se Schnitzel broodjies | Die Spar in Saalbach het ongelooflike lekker hoender schnitzel broojies wat hulle vars voorberei. Ideaal om saam te neem vir ‘n picnic middagete op die berg.
Kaiserschmarrn | Nóg ‘n tradisionele Oostenrykse dis wat basies soos pannekoek is wat in repies opgesny is. Heerlik as ‘n nagereg of ‘n vinnige ‘pick-me-upper’ na ‘n dag op die ‘slopes’.
Appelstrudel | Natuurlike nog ‘n dis wat sinoniem is aan Oostenryk. Maak seker jy geniet ten minste een appelstrudel en koffie in die sneeu.
Stiegl Goldbräu | ‘n Verfrissende plaaslike bier wat uit Salzburg kom en baie gewild is op die ‘slopes’.
Lekker geluister? Volg ons op Spotify en Apple Podcasts om elke week jou dosis reis inspirasie te kry.